Tieners en hulle moods

Julle wat lank hier lees behoort nou al te weet dat my kinders vir my die mees belangrikste mensies in die ganse heelal is.  As hulle hartseer is, is ek hartseer.  As hulle lag, lag ek saam.  As hulle seerkry wil ek die pyn wegvat.  Hulle is my lewe, my trots, my alles.

My seun word volgende week 20.  Hy het vir homself ‘n meisie gekry.  Na soveel teleurstellings.  Hy is baie gelukkig, of kom altans so voor.  Hy is nooit meer naweke hier nie, kuier by haar.  Nou – hy het al paar keer so grapsgewys genoem dat hulle saam wil intrek iewers.  Dit breek my hart.  My seun wil huis verlaat.  Ek natuurlik probeer dit maar wegpraat en keer – grapsgewys.  Maar eerlik, ek wil nie hê my kind moet trek nie.  Ek het seker nie meer veel sê oor hom nie.  Hy is immers baie selfstandig.  En eiewys.  Ek dink net dis bietjie te gou.  Maar sover is hy nog hier, wat darem ‘n troos is vir moederhart.

My grootste probleem en nagmerrie is my dogter.  Mens lees en sien elke dag op TV en koerante van tiener depressie.  As mens nie mooi oplet nie tref dit jou soos ‘n baksteen tussen die oë.  Mens moet NOOIT tiener moods net afmaak as tiener moods nie.

Sy het haar eie rekenaar in haar kamer.  Sy het selfoon van haar eie.  Sy is onafhanklike tiener meisie van 15.  Sy is gedurig in haar kamer, besig op haar rekenaar.  Sy is baie privaat.  Sy is ‘n gelukkige tiener.  Alle tieners het nie die tipe speelgoed wat sy het nie.  So, sy moet dan mos gelukkig wees…?

Vir paar weke nou – sedert die knapie van die kaap hier was – is my kind huilerig en teruggetrokke.  Sien, die liefdetjie het toe suur geloop.  Dit was ‘n ruk van die probeer daai vermaak en andersom.  Misverstand en jaloesie het die oorhand geneem.  Die outjie kon net nie oor die feit kom dat sy regtig baie van hom hou, en hom nie sal verneuk hierdiekant nie.  Nou ja, lang storie kort, het die twee toe baie lelik geraak met mekaar, en dis toe nou uit.

So al die trane en moods skryf ek toe maar toe aan die kwessie, en reken dit sal oorgaan.  Tot ek verlede week per ongeluk iets baie skokkend sien.  Soos sy langs my sit en Olimpiese spele kyk, gaan haar linker arm mou effe oop.  Ek daar sit die merke!  Sy het haar arm gekerf!  Ek was platgeslaan.  Stuk of 6, 7 krapmerke op haar pols.  Dit was seker die grootste skok.

Ek vra toe ‘en dit?!’  O sê sy, sy wou nog met my kom praat oor dit.  Eers het ek nie geweet hoe om dit te hanteer nie.  Gil en skree maak die saak dalk net erger, en dit stop nie by krap nie.  So ek bly toe maar kalm.  Praat mooi met haar en probeer vasstel hoekom.  Sal sy vir my sê sy voel useless…..  Ek meen!!  Sy is regtigwaar ‘n pragtige kind.  En nie oor sy my dogter is nie.  Sy doen besonders goed op skool.  Sy het met die laaste eksamen 6 onderskeidings, en die ander vakke net onder onderskeidings.  Sy het nie ‘n gewigsprobleem nie (alhoewel sy so dink)  Sy is soos maer soos ‘n plank.  Eerste ding wat ek haar ook toe nou vra is of sy opgooi nadat sy ge eet het.  Dit doen sy darem nie.  Waarmee het sy haarself gekrap?  Skerpmaker lem.  Sy was heelweek olik.  Ons almal was al deur ‘n rondte griep in die huis, en ek het maar gedink dit is nog nagevolge van die griep.  Haar kliere was almal geswel, en sy was regtig nie lekker nie.  Soveel dat ek haar ‘n dag uit die skool moes hou.  Nou besef ek daardie skerpmaker lem was dalk vuil!

Ek het so gehuil, alleen, saam haar, by my ma….  Julle ek wil nie my kind in haar kamer dood aantref nie.  Sy mag ook nie meer langmou klere dra nie.  Ek wil haar arms sien.  Sy mag ook nie meer haarself in haar kamer isoleer nie.  Ek kort haar ook bietjie af op haar selfoon.  Ek wil nie al haar goedjies wegvat nie.  Maar ek is bang.  My eie probleempies is nou op die agtergrond geskuif.  Sy is nou my grootste prioriteit.  Toe ek dit vir my man vertel, was sy reaksie ‘Nou vir wat?!  Sy kort ‘n moerse pakslae’.  Ek moet myself so behhers dat ek nie iets onverantwoordeliks aanvang nie.  Goeie vriend Gabriel reken manlief se reaksie is normaal.  Wel, hy het nounog niks vir haar gesê nie.  Na my geselsie en tjanksessie met haar gaan dinge bietjie beter.

Ek wil haar besig hou.  Ek wil haar inskryf vir Marshall Art klasse.  ‘n Vriendin van my wie se seun haar geweldig probleme gee (rook dagga en doen wat hy wil)  het aangesluit by dit, en dit gaan glo baie goed met hom nou.  Hy is ‘n baie goeie atleet, en het nou weer vir sy skool begin hardloop.  So miskien vind sy ook belang in dit.  Al wat ek weet is dat ek plat is, ek weet nie watter kant toe nie, maar ek sal nie kan gaan lê nie.  Hierdie is een berg wat ek moet uit.  Ek moet my mesiekind se sprankel terugkry.  Wat ookal dit verg.

Dit maak mens bang.  By haar skool is ‘n plaatjie opgerig om hulde te bring aan al die kinders wat selfmoord gepleeg het.  Ek voel dis sommer kak, want hulle adverteer selfmoord!  Jy is ‘n held as jy selfmoord pleeg!  Jou naam kom op die plaatjie!  Dis bulldust.

Nou ja, julle moet ‘n lekker week verder hê.  As een van julle dalk deur dieselfde drama is met julle tiener dogters, enige raad is welkom asb.

Liefdegroetetjies

Sonneblom

49 Responses so far »

  1. 1

    boendoe said,

    Ai, Sonneblom! Ek weet nie wat om te se nie.
    Sal terugkom as ek tot verhaal gekom het.
    xx

  2. 2

    Amanda said,

    Wat kan mens sê? Dit moet die grootste skok wees om agter te kom dat jou kind haarself skaad omdat sy glo sy is nie goed genoeg nie! En sy is PRAGTIG ek het haar mos gesien!!!

    Ek dink dis ‘n goeie ding om haar te stuur vir een of ander klasse, marshal arts is ‘n goeie idee omdat dit baie konsentrasie en selfbeheer nodig het en dit sal haar aandag aflei van die dinge wat haar pla.

    Sterkte blommie!

    NS: Ek het jou en Dellie se boodskappe oor Wesie by die vorige inskrywing gesien. Ek sal julle verder op hoogte hou so tussen die troureëlings en werk deur! Gaan net bietjie rof nou en ek kry nie altyd tyd om te blog nie…

  3. 3

    boendoe said,

    Sonneblom, dit is vir my vreeslik. Ek het ook ‘n dogter van 15 jaar, en jy kon haar net sowel ook beskryf het. Met die moodswings en so aan. Vader weet, ek dink jy moet jou dogtertjie by ‘n slim mens kry. Ek weet nie of jy dit alleen sal kan regmaak nie.
    Baie, baie sterkte.

  4. 4

    Sonneblom. ek vra mooi dat jy my asseblief dringend moet epos oor jou kind. Dit is rakende die feit dat sy haarself sny. Sodat ek jou epos adres kan kry om vir jou iets aan te stuur.

    Sy kort NIE ‘n pak slae nie. Asseblief, asseblief.

  5. 7

    Sonneblom jou dogter het nie net ‘n gewone tienermood nie. Die een keer moet jy na jou ma-hart luister. Neem haar sou gou jy kan na ‘n psigiater toe. As jy sukkel om haar in die kar te kry, neem ‘n vriendin saam.
    Vertel vir die dokter van die snyery, vertel alles, gaan saam met haar in. Maar, bly kalm en moenie vir haar kwaad raak voor hom nie. Laat hul dan alleen praat.
    Moenie na ‘n GP toe gaan nie
    Ek dink aan jou en baie, baie sterkte. Epos my, sou jy so voel. hugs

  6. 9

    Adrie said,

    Ek het dit as n koshuisprefek met van my skapies beleef. Dit was vir my as 17 jarige skrikwekkend. Hulle sou eerder selfmoord pleeg as om met n volwassene daaroor te praat. Jou dogter moet jou dus volkome vertrou. Ek stem saam oor professionele hulp.

    Sterkte. Vir julle altwee.

  7. 10

    boendoe said,

    Sonnie, as jy nog nie het nie, mail vir Rosa!

  8. 11

    sonneblomseplekkie said,

    Dankie vir al julle raad.

    Rosa, ek sal nooit in my lewe my kind slaan nie. En ek sal ook nooit toelaat dat enigiemand anders haar slaan nie. Ek het glad nie eers met haar baklei oor dit nie. Ons het gelukkig baie oop verhouding, en sy was baie oop en eerlik oor die saak. Sy het my ook belowe om dit nooit weer te doen nie. Sy se sy het baie erger gevoel na die tyd.

    Ek weet dat ek vir haar hulp moet kry. Sy was die afgelope paar dae baie kalm en sprankelend – tot vanaand weer. Sy en manlief het ‘n uitval gehad. Sy se dit voel vir haar manlief soek haar nie hier nie. hy ids ook baie hardegat. En ek is op.

    Ek wil nie kies nie, maar ek wil ook nie meer my kind so sien nie. As dit beteken ek moet haar vat en geepad, dan doen ek dit. Ek weet net nie waarheen nie. Ek is lief vir hulle almal. Maar ek dink ek het genoeg gehad.

    Sy sal gaan vir behandeling. En ek kry skaam en voel so magteloos – ek het net nie nou die finansies vir een nie. Ek het nie medies nie. En ek weet nie waaranders om hulp te soek nie.

    Rosa, hoe kan ek jou mail addy in die hande kry? My kop staan….

  9. 12

    Zee said,

    Sonneblom, ai, hierdie is so teer sakie. Ek het nie raad nie behalwe om soos almal hier voorstel.

    Vind bietjie uit wat kos so n sessie, ek is seker hier is n paar van ons wat met so klein ietsie kan help.

    Baie sterkte vir jou!!!!

    (((((Sonneblom)))))

  10. 13

    sonneblomseplekkie said,

    Zee, NEEEE. Asb toggie, dis nie wat ek bedoel het nie! Ek soek regtig nie geld nie mense. Dinge het manier om hulself uit te werk… 🙂

  11. 14

    boendoe said,

    Sonnie, gaan by jou dashboard in, en dan die boonste ‘comments’. Dit sal jou al die mense wat by jou gecomment het se email-adresse gee.

  12. 15

    sonneblomseplekkie said,

    Dankie boends…ek het dit gekry dankie.

  13. 16

    Zee said,

    Sonneblom, asseblief, ek is baie ernstig, en ek weet jy het nie daarvoor gevra nie. Jou meisiekind het hulp nodig en ek dink ons sal saam met jou staan om dit vir haar te kry, hoe gering my bydrae nou ook al mag wees in watter vorm nou ook al.

    Weet jy, toe klein mannetjie gebore is het ons net n week tyd gehad om vir hom reg te maak. En as ek nou sê ek hoef niks te gekoop het nie vir 3 maande bedoel ek dit. Van doeke, melk, klere, kot, camping cot, prams etc…..

    Die Here was goed vir my, en net daar het ek tot ‘n besef gekom dat ek moet mense kan help, of dit nou met raad is, (wat ek dan nou ook nie aldag het nie), om iets vir iemand te doen hoe gering ook al. Kinders (al is hulle nou groot) het nog altyd n baie sagte plek in my hart gehad en as ek kan help, dan probeer ek my beste!!

  14. 17

    sonneblomseplekkie said,

    Zee, dankie ek weet jy bedoel dit goed. Die belangrikste vir my kind nou op die oomblik is dat haar ma moet kalm bly en cope. Sodat ek haar kan help. Ek probeer so ver moontlik sterk bly, maar ek crack elke nou en dan op. Ek huil maar as hier niemand is nie. Ek het al swart merke onder my oë van al die tjank. Op hierdie stadium is ek net te bly hier is mense wat omgee…al ken ek julle van geen kant af nie. For some reason besef my man nie die erns van die saak nie, so om met hom te praat is ‘n nul op ‘n kontrak. Hy sê hy weet nie wat aangaan nie, sy het dan so baie….ja sure. Maar ja, ek waardeer julle input en vriendskap terdee. Dankie (((Blogmaats)))

  15. 18

    boendoe said,

    Sonneblompie, ons simpatie gaan niks help nie. Vind uit hoeveel ‘n sessie kos, en post dit hier, SAAM met jou bankbesonderhede. Dis ‘n order!

  16. 19

    Dellie said,

    Sonneblom, drukkies en simpatie gaan nie jou kind gesond maak nie. Luister vir Boendoe en Zee. Hier het al baie wonderwerke op die blogs gebeur. Laat ons toe om jou te help asseblief?

    Sterkte vriendin, ek dink aan julle!

  17. 20

    sonneblomseplekkie said,

    Ek waardeer die feit dat julle wil help. ek het al gesien hoe word mense uitmekaar geruk oor hulp hier op die blogs. Ek het regtig nie gevra vir hulp nie julle. Sielkundige hulp is nie ‘n brood se prys nie. Ek sal uitvind of het ons hier ooit so iets. En hoeveel sessies sy sal nodig hê. Dit is half onmoontlik om dit vas te stel.

    Dit breek net my hart om te sien wild vreemde mense wil haar help. Ek het nou haar pa in die hande probeer kry…hy het gerieflikheidsonthalwe sy foon nommer laat verander!!!!!!!!!

  18. 21

    Ons groepie hier sal NIE toelaat dat jy uitmekaar geruk word nie.

    As jy nou vir my kwaad wil sien, dan moet dit nou hier gebeur.

    Ek het jou gemail. Epos my enige tyd. As jy wil, kon ons oor die foon praat.

    Ek weet jou dogter belowe dat sy dit nie weer sal doen nie, maar met respek aan haar en jou, is dit iets wat sy nie kan help/keer nie. Sy het professionele hulp nodig en dit is nodig dat jou man dit van die sielkundige/psigiager self hoor. Hy moet saamgaan.

    As jy nerens regkom nie, bel die naaste hospitaal/kliniek en vra vir ‘n sosiale werker.

    Onthou net dit is nie jou skuld nie, en jy is nie ‘n “slegte” ma nie.

  19. 22

    boendoe said,

    Bogger die mense wat se daar kan nie vriendskappe op die internet gesluit word nie! En bogger jou, Sonnie, wat ons ‘wildvreemde’ mense noem! 😉

    As ek eendag in die knyp is, VERWAG ek van julle om my te help! Gehoor!! ❓

  20. 23

    sonneblomseplekkie said,

    Ek het sopas die dokter gebel, wat my die hospitaal se nommer gegee het, wat vir my die sielkundige se nommer gegee het, wat eers weer die 18 Aug beskikbaar is. Ek sal maar aanhou soek vir iemand.

    Sorry ou Boends, ek het dit nie sleg bedoel nie 🙂

  21. 24

    Amanda said,

    Sonnie, ek was by ‘n sielkundige in Noordheuwel wat uitstekend is en nie verskriklik duur nie. Hy het my deur my angs, depressie ens ens gehelp!! Ongelukkig is dit nou ‘n paar jaar later en ek weet nie wat ek met sy nommer gedoen het nie. Laat weet my as jy wil hê ek moet sy nommer vir jou opspoor!!!

  22. 26

    sonneblomseplekkie said,

    Amanda, is dit Dr Caler? Die dokter wie se nommer hulle my gegee het is ook in noordheuwel.

    Zee, ek het jou mailtjie gekry vanoggend. en ek het nou eers opgehou huil … 😉 of is daar nog een oppad??

  23. 27

    Amanda said,

    Nee, Dr Phil (van alle dinge) van den Bergh. Ek is besig om sy nommer te soek vir jou.

  24. 28

    boendoe said,

    Hoor hier, maar 18 Augustus is mos net om die draai?

  25. 29

    18 Augtus is nogal gou mens wag soms langer vir ‘n 1ste. Hou vir eers die afspraak, dalk kry jy nie iemand voor die tyd nie.

  26. 30

    Amanda said,

    Sonnie, ek het jou ge-mail met die besonderhede. Hy bly tot BAIE laat in die aande besig.

  27. 31

    sonneblomseplekkie said,

    Baie dankie Amanda. Ek sal hom bel. Die 18de kom die ander dokter eers terug, sy spreekkamers is gesluit.rosa, ook dankie vir al die inligting. Ek het heelwat ooreenkomste gesien met my kind daar. Ons sal haar deur dit kry.

    Dankie weereens vir almal. Ek gaan haar haal by die skool vandag en dan gaan ek haar verras met ‘n lekker chocolate milkshake.

    liefdegroetetjies
    Sonneblom

  28. 32

    sonneblomseplekkie said,

    Ok julle, ek het vir Dr Phil van Amanda gebel. Hy werk nie met kinders onder 16 nie. En sy konsultasies is R450.00 per uur. Ek het ander nommer gekry van ‘n vrou wat met jonger kinders werk. Sy is nie nou beskikbaar nie, maar ek sal uitvind. Maar nou gaan ek eers klaarmaak want ek het ‘n date met ‘n pragtige blonde girl 😀

  29. 33

    oopkop said,

    Hi Sonneblom,
    Ek ken ‘n paar mense wat hulself ook so gesny het. Hulle noem dit “cutting”. Gaan lees gerus meer daaroor en kyk wat daar is wat jy vir haar kan doen. My beste vriendin op skool het haar arms vol merke gesny om te probeer cope met die dinge wat om haar gebeur. As jy meer ingelig is sal jy haar ook waarskynlik beter kan bystaan.

    http://kidshealth.org/teen/your_mind/feeling_sad/cutting.html

  30. 34

    Gabriel said,

    Hi Blom en aan al die ander mense hier 🙂 Eerstens wil ek net sê dit is hart verblydend om almal se reaksies te sien op blom se situasie. Al die hulp wat aangebied word. Dis wonderlik!

    Ek was ook ongelooflik baie geskok gewees toe ek hoor van die ding. Almal se raad is goeie raad blom. Jy moet haar by ‘n dok kry, en manlief moet ook saam gaan.

    En nog ietsie….. watse aleen gehuilery is dit? Jy huil mos saam met jou kinders het jy gesê…. maar wie huil saam met jou? Nee blommie 😦 moenie weer nie. My hartjie huil ook nou. Baie eina.
    Sterkte blom
    Keep the faith en Goodbye

  31. 35

    karoles said,

    Sonneblom
    Ek weet hoe jy voel. My dogter is 16. Soos meeste van julle weet het ons Okt. teruggekom van Holland af. Sy sukkel baie om aan te pas hier. Sy is baie teruggetrokke, praat nie. Het ‘n boyfriend wat veels te oud is vir haar en wat haar claim, sy mag nie vriendinne hê nie, mag nie aan sport ens. deelneem nie, want hy is so sieklik jaloers. Sy het ook alles wat haar hartjie begeer. Eers het ek gedink dis maar die puberteit, totdat sy Dinsdagaand haar pols gesny het. Ek het hierdie hele week deur hel gegaan, want ek neem myself kwalik …. hoekom het ek dit nie gesien aankom nie?? Woensdag met die skoolhoof gepraat, en ons kon gelyk na die skool sielkundige toe gaan. Ons het ‘n goeie gesprek gehad, maar toe ons by die huis kom, het sy vir my gesê sy gaan nie weer nie, en sy wil met niemand praat nie. Ek was ook onder die indruk dat dit uit is met die boyfriend. Gisteraand het sy haar tassies gepak, sy is nou by hom. My man en ek was gisteraand daar om haar daar weg te gaan haal, die boyfriend en sy broers het my man geslaan. Ons het toe maar daar weggegaan. Ek is in ‘n toestand … En as enige iemand van julle my ook net bietjie advies kan gee asb … karoles-1@hotmail.com want ek weet nie meer nie. Baie sterkte vir jou.

  32. 36

    sonneblomseplekkie said,

    Ai Karoles…. (((((karoles)))))

    Ek is so jammer om te moet lees van jou dogter. Ek sweer ek weet nie wat gaan aan met ons jeug vandag nie. Mens dink jy doen vir hulle so baie, en dit wat jy doen is goed, maar ek wonder partykeer of ons nie te veel vryheid vir ons kinders gee nie. bederf ons hulle nie dalk te veel nie. My kind het so jaar terug vir my gese ek hou haar te vas. So toe gee ek bietjie mee. Nie te veel nie. Mens raak dom, regtig. Weet nie meer watter kant toe nie. Of doen ons dalk te min. ek sou kon verstaan as ek buite die huis gewerk het, dat ek nooit hier was vir haar nie, maar ek is elke dag hier.

    Ek sal jou so bietjie later mail stuur. Ek dink ons moet ‘n ondersteuningsgroep vir tiener ouers begin. Ek het nie eers aan die skoolsielkundige nie. ek sal bietjie maandag die skool bel en hoor.

    Dankie weereens vir die raad. sterkte vir jou Karoles. Ek dink aan jou, en ek voel jou pyn saam jou.

  33. 37

    boendoe said,

    Luister, as daar een ding is wat ek geleer het: met tieners vandag kan jy nie meer byhou nie. Karoles en Sonneblom, julle kan julself nie verkwalik nie. Mens doen jou beste. Wat meer kan mens doen?

    Karoles, jou storie is vir my net so vreeslik. Jy kan haar nie daar los nie. Sy is 16, dus nog onder julle ‘gesag’, by gebrek aan ‘n beter woord. En as jou man aangerand is… Kan julle nie regsadvies inwin nie? Of polisie toe gaan? ‘n Minderjarige kind kan seker nie teen haar ouers se wil doen wat sy wil nie? Of is ek verkeerd? Waar is al die slim mense?

    Ai tog, hou ons op hoogte, mense, en baie, baie sterkte.

  34. 38

    maxie said,

    Sjoe, jammer om dit te hoor. Sterkte vir jul albei.

  35. 39

    Zee said,

    Karoles, baie sterkte vir jou en jou familie ook.

    Son, het jy al my mail geantwoord?

    Hoe gaan dit vandag met julle? Dink baie aan jou ((((Sonneblom)))

  36. 40

    Adrie said,

    Karoles

    Tot en met die dag wat sy 18 is, bly julle baas. Gaan haal haar daar, al moet julle die polisie se hulp inroep.

  37. 41

    Amanda said,

    Hallo Sonnie,

    Hoe gaan dit nou met jou en jou dogter? Het jy al reggekom by iemand wat julle kan gaan sien?

    Karoles, sterk wees! Laat jou man ‘n saak maak by die polisie teen die “goed” (jy kan hulle nie mense noem nie) wat om aangerand het en probeer jou dogter so gou moontlik daar wegkry!.

    Ai, ek dink aan julle en bid vir julle en glo dat alles sal reg uitwerk.

    Amanda

  38. 42

    sonneblomseplekkie said,

    Hi julle,

    Ek het hierdie naweek baie raad van alle kante af gekry, en van die blog ook. Julle weet nie hoeveel julle mense vir my beteken nie.

    Ons het ‘n redelike kalm naweek gehad, niks uitvalle nie. ‘n Vriendin van haar het hier gekuier, ek hulle het maar hulle usual tiener goed gedoen. Gisteraand was sy weer tranerig.

    Ek neem haar vanaand vir haar eerste klas by die Kung Fu vriend van my. Sy is uit haar vel van excitement. My een vriendin se kerel is ‘n apteker, en haar seun was ook so deurmekaar. Hy vertel vanoggend vir my die seun het 360 grade omgekeer. Hy se ook ek moet vir haar hulp kry. En ek moet haar betrokke kry by aktiwiteite – enige vrom van aktiwiteit. As ek dit nie doen nie gaan ons haar verloor. Hy se as hulle eers ‘cut’ dan is dit gewoonlik baie ernstig.

    Sy het gister vir my kom se sy soek verf goed – sy het ‘n besonderse natuurlike gawe om te skilder, so, ek gaan dit vir haar kry. Hoe meer sy haarself nou kan besig hou, hoe beter.

    Manlief het ook die naweek so bietjie meer effort ingesit. Ek het nou vir hom gese wat se die apteker vriend, en hy skop darem nie tee nie. So dit kom voor asof hy die erns begin raaksien.

    Julle, dankie vir almal wat bereid is om te help. Ek belowe ek sal julle se as ek finansiele hulp nodig het.

    Karoles, ek stem saam die ander mense, kry die polisie om haar te gaan haal. En laat jou man ‘n aanrandingsaak teen daai ouens maak. Moenie dit net los nie, anders gaan jou dogter en haar pelle dink hulle het gewen. Sy bly jou kind. Sterkte vir jou ook. (((Karoles))))

  39. 43

    Tersia said,

    Ai, soos ek lees loop die trane. Sterkte julle! Ek het ‘n 13jarige seun wat geweldig agressief is en ek bespeur ook ‘n mate van depresie. Hy is by ‘n psigiater, was al in Denmar en is op medikasie. Somtyds weet ek regtig nie wat die Here se doel met alles is nie – dit maak ‘n ma klaar! Ek is so moeg om altyd vir hom op te kom en uit die moeilikheid te kry en as ek my rug draai is hy agressief en praat sommer lelik met my. Hy het ‘n lae selfbeeld, is baie intelligent en stel in geen sport belang nie. Dankie Vader selfkastyding is daar nie. Hy manupileer maklik en dis wat dinge so moeilik maak …wanneer is dit manupilasie en wanneer is dit regtig?

  40. 44

    Pops Pieter said,

    Haai Sonnie en almal.

    Ek is nuut in die ge”bloggery” en dit is my eerste poging. Ek het ook twee pragtige dogters, 17 en 12. Kleintjie noem ons Littlebit omdat sy so fyntjies is. Dra nog klere vir 9 jariges. Oudste is vir gemaklike verwysing sommer Ousus. Laasmelde is atleties en donkerder as haar susie, maar dieselfde postuur, gesiggies, wipneusies en soenbare bekkies. Hulle is altwee beeldskoon en is die een meer fotogenies as die ander.

    My probleem is ook die oudste. Sy is een van die land se top perde ruiters en haar perde is duurder as my motors. Die “kompetisie saal” aalleen is die prys van ‘n klein Fiat!

    Sy is met niks tevrede nie. Sy is ook deurmekaar met vreeslike ryk vriendinne by ‘n Engelse privaat skool. Het haarself ook al gekerf. Sy het laas jaar haar hart vir Christus gegee en is gedoop, maar het nou in die tussentyd besluit dat dit doelloos was omdat God nog nooit een van haar gebede geantwoord het nie.

    (Ons is deur sekwestrasie so twee jaar gelede maar die Here het wonderbaarlik onderneem en ons is weereens baie geseënd. Dit was deels die toedrag van sake met my swaer waarvaan bietjie meer hierinder gepraat word)

    Nou is sy so vol buie dat sy nie eens wil toelaat dat haar kleinsussie vir een minuut enige van haar “besittings” mag gebruik nie, maar Littlebit MOET alles doen en gee wat Ousus vra, sê of beveel. Bevele is een per halfminuut.

    Ousus beweer om assblief te vra of om ordentelik te wees is om “te manupileer” of “gat te kruip”. Dit is nie sy nie en sy weier om een van die twee te doen.

    Ek lees die ander kommentare en ek sien my kind daarin. Sy het waarlik alles wat haar hart begeer. Vanaf die perde, ingesluit haar eie horsebox, laptop, selfoon, dromstel, tv, i-pod, hi-fi ens ens ens.

    Tog gun sy nie die kleinsus een minuut met die i-pod luidsprekertjies om vir hulle tannie ‘n liedjie wat die kleinding self gekomponeer het te speel nie.

    Gisteraand (Sondag 7 Junie 2009) vertel ousus toe aan haar ma hoe jaloers sy is op die kleintjie. Sy beweer sy het net pakslae gekry en die kleintjie kom altyd los. Ons hou boek van die dinge. Ousus het 5 pakke slae gehad in haar hele lewe. Die kleintjie 4. Daar is darem 5 jaar tussen hulle, sy kan nog inhaal of verbysteek. Dit is net dat Ousus verseg om te erken dat sy verkeerd was en botweg weier om om verskoning te vra terwyl die kleintjie opreg en met groot boetedoening erken as sy die grense oorskry het. Dit veroorsaak mos selfs in die land se howe, dat versagting op “vonnis” in ag geneem word wanneer daar duidelike berou getoon word. Hardnekkige doelgerigte weerbarstigheid het die teenoorgestelde uitwerking.

    Ousus sien nooit die blink kant nie. Als is donker, verkeerd en die hele wêreld staat met sy gat in haar gesig. Dit help nie eens as haar vriendinne vir haar reghelp oor haar verwronge selfbeeld nie. Hulle het Satredag toe sy beweer haar sussie het al die “looks” gekry, vir haar gevra of sy al gesien het dat hulle twee van dieselfe ertjies uit dieselfde pot is? Hulle het haar duidelik laat weet hoe mooi sy is en haar gevra hoekom die hele skool se seuns agter haar aan loop. Dit als maak geen saak nie. Sy is vir haarself lelik.

    Sy “haat” haar oom, my vrou se broer. Die man is amper 50 en het veroorsaak dat ons nie meer as familie saam op een erf kon woon nie. Hy het eendag bloot in die “granny flat” by my skoonma ingetrek en was na 5 jaar nogsteeds daar. Sy selfsug en eie beheptheid is wat veroorsaak het dat sy hom begin “haat” het. Als draai om homself. Hy gee geen duit om wat van sy ma word of dat hy veroorsaak het dat ons moes verhuis nie.

    Haar optrede teenoor die res van ons familie is erger as wat haar oom ooit teenoor die familie opgetree het. En nou die wete dat sy haarself kerf.

    Ons het haar ook na ‘n kopdokter toe gevat. Sy weier ook om terug te gaan. Sy luister die hele dag na die mees onderaardse gemors musiek, van mense wat kwaad is vir hulle eie skaduwees en beweer dan dat dit haar agressie tem.

    Die ersgste van alles is dat ek veronderstel is om aan ander te kan raad gee oor sulke dinge. Ek het teologie geswot en hoewel ek nie gelegitimeerd is nie, preek ek en beraad ek hoevele mense oor meerdere ander “topics”. Wanneer dit by jou kind kom, en jy dink dat jy alles reg gedoen het en dit loop so skeef, dan gaan mens se ratte in krap staat in en die karretjie kom tot ‘n geweldadige halt.

    Aanhou bid is die enigste raad wat ek vir myself het. Die ywerige gebed van die vasberade man vermag veel.

  41. 45

    Anoniem said,

    Hi Pops Pieter en welkom 😉

    Dankie vir jou comment. Dit breek my hart om te sien hoe een kind altyd minderwaardiger as die ander een voel. En dit lyk my elke huis het maar sy hardkoppige kind.

    Mens weet nooit of gee mens dalk te min, en of gee mens dalk net te veel nie. Ek het noudiedag vir my meisiekind gese ek dink hulle was te min geneuk toe hulle kleiner was.

    Ek moet se, sy het uit haar vreeslike depressie toestand uitgekom met ‘n nuwe sprankel vir die lewe. Al raad wat ek jou kan gee op die stadium, is om altwee jou dogters toe te gooi met liefde. Praat met hulle. Hulle is tieners en dit maak hulle horend doof….. MAAR glo my as ek jou se, hulle hoor elke woord wat jy se. En meer van daai woorde steek vas as wat ons dink.

    Hou aan bid. Moenie opgee nie. Sterkte vir julle en kom vertel gerus weer hoe dit gaan met hulle.

    Groetetjies
    Sonneblom

  42. 46

    ANNE said,

    PLEASE HELP I HAVE A 14 YEAR OLD SON WHO I DON’T KNOW ANYMORE

  43. 47

    Anoniem said,

    My vriendin se 13 jarige dogter sny haarself is daar enig raad wat julle aanbied om dit te stop.
    Dankie
    Jackie

  44. 48

    lezane elske said,

    Ek het 2seuns my oudste kind is 11jaar oud hy is al op dai stage wat hy meer gesoen wil wees deur my nie hy se hy is groot ek moet om soen nie ma ek se vir hom maar hy is my baby ek is nog lief vir hom.hy praat al van meisies moet ek bekommerd wees hoe maak ek hoe praat ek met hom ek is n enkel ouet help asb gee raad


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar op sonneblomseplekkie Kanselleer antwoord