Week se gebeure

My weeshuis duif neem die hele huis oor.  Dis net tik tik tik soos hy op die houtvloere rondloop.  Glad nie ‘n skaam mannetjie (of wyfie) nie.  Ek het nou nog geen terugvoering gekry van die duiwe vereniging nie.  Mens sou dink dis belangrik vir hulle, maar nou ja.  Weet net nie wat moet ek met die duif doen as niemand hom opeis nie.  Ek kan tog nie met die ding gaan loop vlieg nie…ai.  Dalk in so paar maande het sy vere terug gegroei en dan vlieg hy huis toe.  Groot sal die eienaar se verbasing wees dat sy duif inklok met ‘n tyd van 4 maande 3 dae en 13 ure😀

Meisiekind en haar kaapse kêrel is uit.  Maar in pleks van dat die outjie aangaan met sy lewe, verpes hy my kind 24/7.  Soos julle wat al lank hier by my kuier sal weet, ons is groot online gamers.  En daar is heelwat jong outjies wat speel.  En hulle pa’s.  Niemand het gewaag om eers met my meisiekind te praat nie, want haar kêrel is ook in die game.  Die woord was skaars uit dat hulle 2 nie meer saam is nie, toe begin die hofmakery van vooraf.  Sy het die latte mooi laat verstaan, sy stel nie belang nie, en wil net vriende bly.  Nou – is die gewese kêrel en sy pa op ALMAL se case oor hulle dit durf waag om met haar bevriend te raak.  Almal word afgedreig en die pa’s is al aanmekaar oor die situasie.  Ag Vadertjie tog!  My kind is nie ‘n trofee of ‘n prys wat gewen kan word in ‘n kompetisie nie!!!  Vir die afgelope week het ek haar nie een keer sien huil nie – tot gisteraand, toe al die dinge toe nou uitkom.  (Gewoonlik het sy elke dag gesit en huil oor die kaapse kêrel wat nie reg maak met haar nie)  Manlief sê net sy moet die knaap laat verstaan hy moet ‘n lewe kry.  Ek gaan nog heeltemal grys word.

Seuna het ‘n meisie ontmoet.  Hy was nou al 2 saterdae aande by haar.  Hy bring haar die naweek om ons te ontmoet.  Sy slaap glo hier oor saterdagaand.  Ek kan nog geen idee vorm van haar nie.  Seuna sê sy is vriendelik en praat vreeslik baie.  En lag glo kliphard vir alles.  En sy is effe mollig.  En sy dra hoëhak skoene.  En hy hou nie regtig daarvan nie.  En ek sit maar en dophou.  (ek wonder of daar nie dalk iets goeds is in voorafgereelde huwelike nie) :D  Sal terugvoering doen maandag😉

Julle onthou vir “Jan”  Die dwelmverslaafde outjie wat so aangejaag het, en toe in ‘n rehab sentrum beland het?  Die Rehab sentrum het glo toegemaak, maar “Jan” was toe nou darem gerehabiliteerd.  Hy het weer werk gekry by kontrakteurs in Angola.  Hy het so verander dat hy sy vrou toegelaat het om te gaan werk. (Sy mag nie gewerk het nie)  So goed het hy reggekom, dat hy nie meer rook nie, drink niks meer nie, gebruik nie meer dwelms nie, en is ‘n hergebore Christen.  Tot gister toe.  “Jan” is vir paar dae terug in SA en moes saam Manlief gaan werk.  Hulle het groot kontrak wat vandag moet klaar.  Hy was paraad en by die werk tot 9 uur gisteroggend.  Toe verdwyn hy weer en laat gisteraand soek hulle hom hier by my.  Tot sy baas wat in Angola sit het die wêreld witwarm gebel opsoek na hom.  Kan een mens soveel bollie aanjaag?  “Jan” besef nie hoe gelukkig hy is om nog werk te kon kry na al die stront wat hy aangevang het nie.  Maar o wee, ophou en rehab lyk my is net tydelik – of dalk net ‘n skein???

Nou ja, dis vrydag die 13de…..  en ek het lus vir niks.  LAng naweek wat voorlê.  Wens ons kon bietjie wegbreuk.  Almal wat weggaan, geniet dit en ry veilig.  Lekker vadersdag vir al die pappas Sondag.

Liefde groetetjies

Sonneblom

6 Responses so far »

  1. 1

    Dellie said,

    Hehe, ek smile vir daai vliegtyd van die arme weeshuis duif… die eienaar sal sekerlik verbaas wees om hom weer te sien!😆

    Jammer om te hoor van die kys wat uit is. As die mannetjie nou net wil aanbeweeg.

    Ek is bly vir jou seun, gee die gril maar ‘n kans, miskien verras sy jou.

    Lekker naweek hou, ek wens ook ons kon wegbreek.😉

  2. 2

    Zee said,

    Sonneblom, as jy wil kan ek vir jou ‘n nommer gee van ‘n ou wat groot is in die duif vlieg ding. Dalk kan hy jou dalk vinniger help.

    Ai, die joys of motherhood nê. Sê maar as ek so bietjie ietsie moet stuur vir die grysstof😉

    Ag jinne tog, as Jan net weet wat hy verloor deur weer terug te gaan na sy ou weë. Sonneblom, ek het al lankal tot die gevolgtrekking gekom dat die rehabs net ‘n hotel is vir so paar weke. As hulle koppe nie heeltemal reg is nie, gaan niks en niemand hulle laat afsien van die dwelms nie. Ek wonder of hy nie dalk een van sy “ou vriende” raakgeloop het nie. Dit is altyd die groot gevaar na die tyd, n mens moet hulle heeltemal afsny en draaie loop om hulle!

  3. 3

    Pikkelik said,

    Lag, frons, huil, smile, sug, frons…. Alles in een storie… Sonneblom jy skryf LEKKER! Sterkte vir die ‘meisie-by-die-huis’ ervaring wat wag en ek hoop jy het ‘n heerlike naweek! 😉

  4. 4

    sonneblomseplekkie said,

    Dellie, ek het myself toe ek 2 maande oud was belowe ek sal nie inmeng in my kids se liefdeslewens nie. Net as ek sien daar is nou regtig iets ergs fout. Soos aanranding om mishandeling ens. So ek sal maar vir seuna los om self sy dinge uit te werk. Meisiekind – ja…ek sal haar tot aan die eiende van die heelal beskerm. Die laaities is stout……😀

    Zee, miskien moet jy dalk. Ek het al oral rondgevra wat om te doen. Dis nie asof ek ‘n spaar duiwehok hier iewers in die erf het wat rondlê nie, so weeshuis duif moet maar saam ons kuier😉
    Ek het nounou gebel om te hoor waar is Jan – nog steeds weg. Dink nie daar is ommekeer vir daai man nie. Hy het 3 van die beste gemanierde seuns, en dis jammer dat hy hulle rolmodel is…..

    Pik, ek wonder wat gaan seuna sê as ek sy girl vra om koffie te maak – jy weet, ek moet weet of kan sy dit darem doen hehehe. Maar ernstig nou eers, ek sal alle geite in my kas bere en die girl mooi behandel…..terwille van my seun.

    Julle ek kry koud😦 wie het die son se hitte gesteel??? lol

  5. 5

    Wipneus! said,

    Sjoe hier het ek vandag lekker gelees. Ek het net so lekker gelag vir die weesduif wat daar rond trippel.

    Hoop jy het ‘n heerlike naweek met die kinders en hulle liefdes. Meisiekind sal vinnig weer ‘n nuwe liefde kry….. O! die liefdes van ons kinders, mens hou nie altyd by nie… 😆

  6. 6

    boendoe said,

    More Sonnie. Ja, ek het ook lekker gelees vandag. Ek hou duimvas vir jou weesduif. Dat sy eienaars hom kom opeis. Maar, dalk vlieg die arme ding van Amerika af (ha ha) en vat dit bietjie tyd!


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: