Oupa Smarties

Dellie se skrywe het my nou vandag laat verlang na my Oupa Smarties. 

 

Oupa

Ek kan dit nie onthou nie, want ek was maar iets soos 2 jaar oud, maar die ‘grootmense’ het my vertel dat Oupa altyd klein poppies op my groot tone geteken het.  Dan tel hy my van sy skoot af en sê ek moet nou mooi loop, want anders trap ek die poppies dood.  Dan sal ek nou net daar gaan sit en huil totdat iemand die poppies afwas, want ek wil hulle nie dood trap nie. 

Oupa en Ouma het in Stilfontein gebly.  Oupa het daar op die myn gewerk.  Die opgewondenheid was op barspunt as Ma sê ons gaan kuier.  In die kar het ons altyd na Ge Korsten se musiek geluister.  Dit was nog die groot kasette.  Die wat so groot was soos vandag se video tapes.  Ons het al die liedjies uit ons kop geken.  Van Jerusalem tot Stilfontein.  Hoe nader ons aan Stilfontein kom, was dit altyd ‘n kompetisie om te kyk wie sien eerste Oupa se myn raak.

En dan die groot hoop dat Oupa by die huis is as ons daar kom.  Oupa het gewoonlik op die stoep gesit en boek lees as ons daar aankom. Die stoep was toegerank met ‘n druiwe prieel.  My ma se jongste suster het by Oupa hulle gebly.  En sy was baie kwaai.  Sy het baie met ons geraas, veral as ons die wasbak vuil los nadat ons ons hande gewas het.  En as ons ons speelgoed daar vergeet het sy dit gevat en op bord geplak, sodat sy dit vir ons kon wys.  Dan was dit natuurlike nie meer ons goed nie.  Sy het dit opgetel, en ‘optelgoed is vatgoed’  As Oupa sien ons speelgoed is vergeet het hy dit skelmpies gebere tot ons weer kom kuier.  So ook was sy baie beneuk met die tuin, en veral met die druiwe rank.  Oupa sal rondkyk om te sien of hy haar iewers gewaar, en dan sal hy ons skelmpies leer om die suur stringetjies van die druiwe te pluk en te eet.  “Maar moenie dat Ria julle sien nie hoor”

So rukkie nadat ons gewoonlik daar aangekom het sal Oupa sê hy moet eers ry, om petrol in sy kar te gaan gooi.  Ek dink dit was ‘n Caltex garage.  Dan kom hy terug met sakkies wat die garage uitgegee het vir vullis in die kar.  En elke kleinkind kry so sakkie vol lekkers.  En smarties.  Nooit kon ons verstaan hoe weet die garage presies hoeveel kleinkinders kuier by Oupa nie, want hy het elke keer net genoeg sakkies by die garage gekry.  Ons moes net nie die papiertjies laat rondlê nie, want Ria sal raas. 

Oupa het altyd vir ons die interresantste goedjies gegee om mee te speel.  Van puzzles wat hy in tydskrifte gekry het tot draadjies.  En dit kon ons besig hou vir ure aaneen.  Elke kersfees het Oupa en Ouma vir al die kleinkinders Lucky Packets gekoop vir geskenke.  Dit was ‘n fees. Dit was nog van die groot bokse gewees.  Daar was lekkers, inkleurboeke, inkleur potlode, speelgoed, chips, en lekkers in.  Een kersfees, die kersfees voor sy dood, gee hy almal se geskenkies vir hulle, en die oomblik toe almal se hande vol lekkers en speelgoed was roep hy ons almal bymekaar.  In sy hande het hy ‘n 20l emmer.  Vol sweets.  En hy gee vir elke kind soveel soos wat ons handjies kon hou.  Na die ‘dankie Oupas’ vat hy daai emmer en gooi al daai lekkers op die grasperk uit.  Dit was ‘n geduik van ‘n ander aard.  Dit was prêt.

Ouma het elke kersfees al die silwer 5 sente wat sy deur die jaar bymekaar gemaak het mooi skoon afgewas, en dan het sy penny poeding gemaak.  Elke vrou het iets gemaak vir die kersete.  Dit was altyd ‘n feesmaal met kos wat ‘n weeshuis kon voer.  Maar niks het gekom by Ouma se poeding nie.  En die tel van almal se ‘winning’ na die poeding. 

Oupa smarties het gehou van lees.  Hy het ‘n leesboek gehad in sy slaapkamer, een in die toilet, een op die stoep, een in die sitkamer, en een in sy kar.  En hy het almal gelees.  Hy was ‘n besonderse man.  Hy het vreeslik baie gedrink toe hy jonk was.  Wanneer hy salaris gekry het, het hy nie huis toe gekom voordat dit nie opgedrink was nie.  Ouma het baie swaar gekry om 6 kinders groot te maak.  Eendag sit Oupa en kyk vir Ouma en sê, ‘ek sweer voor God ek sit nie weer my lippe aan drank nie’  En hy het net daar en dan opgehou drink.  Hy het nooit ooit handgemeen geraak met my ouma nie.  En hy het nooit sy hande vir een van sy kinders gelig nie.  Ouma moes die slaanwerk doen.  Hy was ‘n liefdevolle man pa en oupa vir sy familie.

Dis ‘n groot jammerte dat hy in sy 50’s skielik oorlede is aan ‘n bloedklont deur die long.  Dit was asof die aarde onder die familie uitgeruk was.  ‘n Dag van bang kleinkinders wat almal in Ouma se spaarkamer gespeel het in afwagting vir die grootmense om van die hospital af te kom….met Oupa.  Sien want Oupa het siek geword.  Verkoue.  En Oupa was nooit siek nie.  Ons kon nie verstaan hoe kan hy dan in die hospital wees nie, want hy moet mos op die stoep in sy groot stoel sit en vir ons stories vertel.

Groot was die skok toe ons ouers van die hospitaal afkom en almal se oë is rooi gehuil.  Oupa is skielik dood.  Die dokters kon niks doen om hom te help nie.  Dit moes vreeslik wees vir Ouma en haar 6 kinders.  Want dit was vreeslik erg vir ons as  kleinkinders.  So deur die skok en al die trane en getroos, hak een van my nefies af en sê so in sy kleinheid “Oupa Smarties gaan nooit weer vir ons smarties koop nie”, en daar bars die lotte van ons net weer van vooraf uit van die huil.

Oupa Smarties, ons sal jou altyd mis.  Ek wens ons kinders kon jou ken.  Ek wens elke pa op die aardbol kon soos Oupa wees.  Want dit sou een groot fees gewees het.  Oupa Doep (Smarties) was die toonbeeld van wat ‘n Oupa moes wees, met Oupa se boep op Oupa se stoep, onder die skadu van die palmboom, in Stilfontein.

 

Liefies

XXX

7 Responses so far »

  1. 1

    Dellie said,

    Ag, dis darem maar lekker om te onthou! My oupa is oorlede toe ek nege was, en Ouma ongeveer nege jaar gelede. My ander oupa en ouma het ek nooit geken nie. Gelukkig het my Ouma darem die kans gehad om my man en seun te leer ken voordat sy oorlede is. Ouma’s en Oupa’s is baie spesiaal.

  2. 2

    boendoe said,

    Ek het nie grootouers gehad wat ek geken het nie, maar my ma is ‘n wonderlike ouma. Ek hoop my kinders het eendag sulke mooi herinneringe soos wat julle het!

  3. 3

    boendoe said,

    Hei! Jy is alweer so stil! Wat gaan aan in jou lewe?

  4. 5

    Eben said,

    Dis ‘n lekker posting gewees. Dis lekker om so te onthou en al die lekker van klein wees te onthou en te vertroetel.

    Dis reg wat Boendoe sê, moenie jarrrreeee vat voor jy weer post nie. Vertelle ons wat gaan aan om jou!

  5. 6

    boendoe said,

    Sonneblommetjie, is jy okay? Jou stilte krap aan my!


Comment RSS · TrackBack URI

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: